Die gedagte van ‘n eie Afrikaanse Volksang- en Volkspelebeweging het in 1912 by S.H. Pellissier ontstaan.
Hy – destyds vise-hoof van die Hoërskool Boshoff – en J.M. Meiring, was in Nääs, Swede, om hulle daar verder in skrynwerk te bekwaam. Nadat die dagtaak afgehandel was, het die jongmense saans geleenthede geskep vir ontspanning. Hulle het in die kleurvolle volksdrag van hul verskillende lande bymekaar gekom en volksang en volksdanse beoefen. Net die Suid-Afrikaners was nie in volksdrag geklee nie, want hulle het nie oor so iets beskik nie. By die aanskoue van hierdie kleur- en glankryke optredes het S.H. Pellissier besluit dat wanneer hy weer in sy eie land terug is, hy dit sy taak gaan maak om die jongmense van sy volk te mobiliseer en aan te spoor om ook ‘n spelende, singende en werkende volk te word. S.H. Pellissier het die volgende vier Sweedse danse vertaal en aan leerlinge van sy skool geleer: Boemfaderalla; Nikko-dikkom-dei; Ses wakker meisies in ‘n kring en Die Vaste band. Tydens æn Sondagskoolpiekniek op 28 Februarie 1914 is dié spele toe die eerste keer op ‘n plaas met die naam Vuisfontein ‘n paar kilometer noord van Boshoff, vertoon.
Hierdie spele het toe bekend gestaan as die “Swedish Games”. By al die pieknieks is daar destyds “games” gespeel, o.a. Jolly Miller, Early (Ellie) Rose, Daar kom die wa, ens. Hierdie ywer het daarop uitgeloop dat ‘n groep volkspelers in 1953 na Europa vertrek het om hierdie kultuurskat gekend te stel. Die volkspelers sou ook as ambassadeurs vir hulle land optree, want daar is oral by privaat mense tuisgegaan.
Hierdie toer was die voorloper tot die volgende verdere toere na Europa in 1958, 1969, 1981, 1983, 1984, en 1985 en verskeie toere van volksdansgroepe na Suid-Afrika. Die deelnemers aan al hierdie toere was senior volkspelers wat landswyd gekeur is. In 1983 het die gedagte ontstaan om die moontlikheid van ‘n toer vir juniorsvolkspelers aan hoërskole verbonde, te ondersoek. In 1984 vind die eerste toer na Europa vir junior volkspelers van st. 8, 9 en 10 plaas. Die toerlede is tydens ‘n nasionale keuring gekies en het hulle met onderskeiding van hulle taak as ambassadeurs van die Beweging en die land gekwyt. Die tweede toer vind plaas in April 1987. Die Beweging het hom egter nie net op die behoud van oorsese kontak en toere toegelê nie, maar ook binnelands verskeie toere gereël om volkspele aan ons eie mense bekend te stel. Die eerste het in 1955 plaasgevind en is gevolg deur ander in 1958, 1960, 1972, 1974, en 1986. Gedurende 1976 is daar ook ‘n baie suksesvolle sangtoer deur die land gereël. ‘n Sanggroep maak ook deel uit van die binnelandse toer van 1986. Volkspele was ook nog altyd deel van ons land se groot volksfeeste soos die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949, die Van Riebeeckfees (1952), die Uniefees (1960) en al die groot landswye Republiekfeeste daarna. Daar lê ‘n blink en vreugdevolle toekoms vir die Afrikaanse Volksang- en Volkspelebeweging voor as elke volkspeler en volksanger getrou bly aan die ideale van die stigter. Laat ons sing, speel en strewe – en ons lewe verryk met die veredelende wekroep: WERK!
Bronne:
S.H. Pellissier
J. Pellissier
Vorige volkspelehandleidings
Proefskrif – dr. Corrie Jooste
Bronnegids:
ONS VOLKSPELE-ERFENIS
UITGEGEE DEUR DIE AFRIKAANSE VOLKSANG- EN VOLKSPELEBEWEGING
ISBN 0 620 12222 6