Kleredrag van die Volkspelers

Volkspeledrag

Waar kom die kleredrag vandaan wat ons volkspelers vandag dra? Dit het ‘n baie interessante ontwikkelingsgeskiedenis. Ek geniet dit om deur my foto-album wat oor baie jare strek te blaai en die verskillende ontwikkelingsstadiums te sien. (Waar is ons Nasionale Raad se argief wat dit behoort vas te lê?) ‘n Persoon wie se naam ons heel eerste behoort te noem en in ere moet hou is dié van mej. Trudie Kestell van Bloemfontein. Jare gelede het sy en ‘n paar vriendinne op Bloemfontein ‘n mooi geleentheidsportret laat neem waarop hulle in historiese Voortrekkerdrag geklee sit met ‘n klein tent in die agtergrond en ‘n ketel e.a. kombuisgereedskap in die voorgrond.

Hierdie portret het vir jare in ‘n vertoonvenster van æn afnemer gestaan waar ek dit ook in 1915-1916 gesien het. Dit het groot belangstelling gewek. Hierdie portret het destyds aan dr. Pellissier, toe ‘n onderwyser, die idee gegee om in 1915 vir die eerste keer in Suid-Afrika ‘n groep mans en vroue in historiese Voortrekkerdrag in Dingaansvierding (Geloftedag) op Boshoff in die Vrystaat te laat bywoon. Die mans was almal in bruin ferweelpakke geklee.

In die twintiger of vroeë dertiger jare het ook tannie Elsa Dekker ‘n koor in Bloemfontein gehad wie se kleredrag op die patroon van die historiese voortrekkervroue se eenvoudige lang, klasieke rokke gebaseer was. Toe die Voortrekker-eeufeesjaar, 1938, naderkom en die geesdrif oplaai om by plaaslike feeste ‘n egte historiese atmosfeer te skep, het artikels in koerante in die Vrystaat mense aangespoor om ou familie-almums en museums te raadpleeg en die ou Voortrekkerdrag van ‘n eeu gelede na te boots en baarde te kweek. (Wat æn onvergeetlike jaar was dit in ons volk se geskiedenis!) Trudie Kestell, wat baie navorsing in hierdie verband gedoen het, was baie behulpsaam met koerant-artikels en afbeeldinge van ou-ou portrette.

Toe die volkspele in daardie tyd van geestelike herlewing van ons volg begin posvat, was dit vanselfsprekend dat die Voortrekkerdrag van ons voorouers van die Groot Trek, wie se speletjies herleef het, die gepaste Voortrekkerdrag (tot ‘n mate aangepas vir spele-doeleindes) moes wees. In die beginjare was daar egter nie ‘n vaste patroon vir die niggies nie, solank die lyfie maar nousluitend was en die romp lank en wyd onder. Waar vroue se Voortrekkerrokke tydens die eeufeesvierings lang, nousluitende moue gehad het, het die jongmense en kinders kort pofmoue ingevoer.

Dis baie interessant om na foto’s van die vroeë veertigerjare te kyk, o.a. geneem tydens ‘n volkspelekursus op Bloemfontein in 1945, en ook met die Vrystaatse eeufeesvierings in 1946. Sommige. Niggies het aandrokke van enige soort materiaal met lang klokrompe omskep in volkspelerokke. Solank die rok net lank was en die geesdrif daar, het hulle lekker gepeel. Sommige moue was kort en baie wyd, ander weer nousluitend tot oor die elmboog, met of sonder kant, die nekdoeke driehoekig en op allerlei maniere voor vasgesteek. Hierdie driehoekige nekdoeke was egter baie onprakties want gedurende die spel het hulle agter opgeskuif. Ek vertrou dat die drag van niggies en neefs wat nou na jare van navorsing en beplanning vasgelê is in ons Beweging se klerehandleiding en wat in ons land en oorsee groot bewondering wegdra, so sal bly vir volkspelers van die toekoms.

Bronnegids:
ONS VOLKSPELE-ERFENIS
UITGEGEE DEUR DIE AFRIKAANSE VOLKSANG- EN VOLKSPELEBEWEGING
ISBN 0 620 12222 6