Ontstaan van Volkspele
Die Volkspele-beweging is op 28 Februarie 2014 'n eeu oud en nie almal is seker daarvan bewus dat die beweging op Boshof gestig is nie. 'n Groot eeufees word vir 2014 beplan om die geleentheid te herdenk, en dit sal op Boshof gehou word. As voorloper tot dié fees, word 'n "mini-fees" beplan vir 28 Februarie 2013 - verdere besonderhede sal in die volgende uitgawe van Boshof Kontrei verskyn. Die eerste van drie artikels oor die Volkspele-beweging, saamgestel deur Wynand Theron van Durbanville, verskyn hieronder. Wynand is 'n oud-Boshoffer en het in 1964 hier gematrikuleer.
Die ontstaan van die Volkspele-beweging in Suid-Afrika Die meeste volke in die wêreld het tradisionele danse wat baie eeue gelede in die verre geskiedenis ontstaan het. Alhoewel Afrikanerseuns en -dogters in die 19de eeu piekniek-spele op informele wyse by sosiale byeenkomste gespeel het, was daar egter geen georganiseerde poging om hierdie volkspeletjies, toe nog slegs as “piekniekspeletjies” bekend, uit te bou of te organiseer nie.
In 1912 het 'n jong onderwyser, Samuel Henri Pellissier, Swede besoek saam met ene J M Meiring met die doel om hulle meer te bekwaam in die kuns van hout- en skrynwerk. Sommige aande het hulle ander jongmense van verskillende lande ontmoet en verskeie kere was dié jongmense geklee in hulle kleurvolle volksdrag en het hulle volksdanse en volksang beoefen. By die aanskoue van hierdie kleur- en glansryke optredes, het Dr. Pellissier besef dat ander volke hulle spele as 'n trotse kultuurbesitting van hul volkslewe beskou, terwyl die Afrikaanse spele in sy land op die agtergrond gehou word en slegs by boerebyeenkomste op die platteland gedans word.
Hy het daar en dan besluit dat wanneer hy weer terug is in sy eie land, hy dit sy taak gaan maak om die jongmense van sy volk te mobiliseer en aan te spoor om ook 'n spelende, singende en werkende volk te word. In 1914, terwyl hy adjunk-hoof was van die “Afrikaanse Hoërskool” in Boshof, het Dr. Pellissier besluit om met die volkspele-beweging te begin. Hy het vier Sweedse liedjies vertaal en aangepas en die ritmiese bewegings (danse) aan groepe jongmense geleer en op Saterdag,28 Februarie 1914, het die groot dag aangebreek. Die geleentheid was die jaarlikse Sondagskooluitstappie na die piekniekplek naby die Vuisfontein-pan, 'n paar kilometer Noord van Boshof op die Christiana-pad. Die leerlinge en onderwysers is met tien ossewaens daarheen vervoer en die ganse dag – 'n snikhete een - is die vier aangepaste Sweedse liedjies as volkspele gespeel – oor en oor - deur die verskillende groepe jongmense!! 'n Klipstapel is ook dié dag gepak ter herinnering aan daardie heuglike dag. Dit was 'n heerlike dag en die leerlinge het daardie aand moeg en verbrand deur die son, teruggekeer dorp toe. Toe Dr S H Pellissier gedurende die Eeufees in 1956 die volkspelemonument onthul het, het hy vertel van dié dag en gesê: "Dis hoe ons dit begin het – ons het verbrand, ons het gespeel en ons het lekker gekry."
Die Volkspele-monument opgerig waar die eerste Volkspele op 28 Februarie 1914 gespeel is – die fonteintjie is net links daarvan. Die pan is in die agtergrond. Hieronder is die plaat met die inskripsie
Die slag was gelewer - volkspele is gebore - en byelke moontlike geleentheid daarna was die aanvraag vir volkspele geweldig. Dr. Pellissier het begin om ons eie spele een vir een te verwerk en by te bring en hy het ook daarop aangedring dat hulle net so grasieus en ordelik gespeel moet word soos die vier oorspronklike Sweedse Volkspele. Op dié wyse is die volkspele-beweging in Suid-Afrika gebore.
Dit was met trots dat Dr Pellissier vertel het hoe die saadjie wat hier in Boshof gesaai is, "soos 'n klip wat jy van die rant afgooiwat om en om rol en wil lyk of dit gaan lê, dan bokspring dit en rol al verder en verder, so het volkspele ontwikkel as deel van die Afrikaner se kultuur. Die Afrikaner het lank gestry vir sy taal – nou het ons kultuur, ons Bybel, volksliedjies en volkspele – geen land in Europa het nie sy eie spele nie," het hy afgesluit. Dr. Pellissier het verder gegaan en vereis dat ons volkspele en -sang in gepaardgaande volksdrag beoefen moet word – meer daaroor in 'n latere artikel.
Alhoewel volkspele na 1914 op Boshof en op enkele ander dorpe gewild was en gegroei het, was die landwye belangstelling van die jeug nie genoeg om die spele op nasionale vlak te bevorder nie. Die geleentheid hiervoor het gekom toe Dr Pellissier op 1 Desember 1926 aangestel is as Direkteur van Onderwys in die Vrystaat en toe kon volkspele die nodige hupstoot kry wat dit uiteindelik tot nasionale vlak laat vorder het.
Dr. Samuel en mev. Judith Pellissier in volkspeledrag in 1915
‘n Ere-doktorsgraad in Opvoedkunde is in 1945 aan hom
toegeken.
Die Sondagskool-piekniek by Vuisfontein-pan op Saterdag, 28 Februarie 1914
Onstaan van kleredrag
Hierdie is die tweede van drie artikels deur Wynand Theron van Durbanville oor die ontstaan van die
Volkspele Beweging in Suid-Afrika en handel oor diekleredrag. Die artikels word geskryf in aanloop tot die
herdenking van die ontstaan van volkspele op Boshof in 1914. 'n Eeufees word vir 2014 op Boshof beplan
asook 'n "mini-fees" iewers in volgende jaar – nadere besonderhede volg later".
Die ontstaan van die Volkspele Kleredrag
Die stigting van volkspele tydens 'n Sondagskool-uitstappie op 28 Februarie 1914 naby die Vuisfontein-pan buite
Boshof, was vir Dr. S. H. Pellissier, die stigter, 'n heuglike gebeurtenis. Hy wou egter die uniekheid daarvan verder
uitbrei en het vereis dat volkspele en -sang in gepaardgaande volksdrag beoefen moet word. En gewone drag was dit
beslis nie.
Niggies (Dames)
Die ontwerp van die rok van die niggie is gebaseer op Voortrekkerdrag van om en by 1836, alhoewel dit nie identies
daaraan is nie. Dit stel nie die alledaagse drag van die Voortrekkervrou voor nie, maar wel die niggiese “kis”-drag – die
swierige drag wat sy net by spesiale en feestelike geleenthede gebruik.
Die bo-rok was tradisioneel van tafsy gemaak, maar deur die jare het makliker wasbare en koeler materiaal meer gewild
geword. Enige effekleurige materiaal of materiaal met 'n klein onopsigtelike patroontjie kan gebruik word. Die lengte is
tot op die knop van die enkel. Die lyfie, wat strek tot by die niggie se middel, is nousluitend en bestaan voor uit 'n
middelpant en twee sypante wat met 'n koord aanmekaar gestik is. Die halslyn is rond en strek tot eensentimeter onder
die kuiltjie van die hals, afgewerk met 'n belegsel.
Die moue (nie 'n pofmou nie) strek tot by die buig van die arm by die elmboog waar dit met 'n rekkie ingeryg word. Die
eerste val van die mou is van dieselfde materiaal as die rok en 'n tweede wit kantval, van dieselfde kant as die neef se
nekdoek, word onder die materiaalval gedra. Die halsdoek bestaan uit drie aparte dele en word met 'n fyn kantjie
afgewerk. Die wye onderrok word onder die bo-rok gedra en het 'n breë val van dieselfde kleur as die bo-rok.
In latere jare het veral die jong niggies hulleself“geliberaliseer”. Aandrokke van enige materiaal met lang klokrompe is
omskep in volkspelerokke – sommige moue was kort enbaie wyd, ander weer nousluitend tot oor die elmboog, met of
sonder kant. Solank die rok net lank was en die geesdrif daar, is daar lekker gespeel!
Neefs (Mans)
Tradisioneel word die neef se broek van 100% wol gemaak en is donkerblou, -groen, -bruin of -swart . Die broekspype
is sonder omslag en effens na vore gesny, terwyl daar geen agtersak is nie, maar wel twee klein sakkies aan die
voorkant. Die dra van kruisbande word sterk aanbeveel, asook die dra van bypassende effekleurige sokkies en donkerkleurige skoene.
Die onderbaadjie is eenkleurig met, waar moontlik, Suid-Afrikaanse blomme op die voorpante geborduur. Hemde is van
suiwer-wit materiaal met moue wat verkieslik effenswyer as gewone hempsmoue is. Die nekdoek is dieselfde kleur as
die niggie se rok of suiwer-wit en is driehoekvormig en word verkry uit 'n vierkant van 'n gegewe grootte wat van hoek
tot hoek deurgesny is. 'n Nekdoekring, gesny uit 'nSuid-Afrikaanse houtsoort of selfs horing of been, word ook gedra.
Soos by die niggies, het daar deur die jare by die neefs ook afwykings van die neergelegde kleredrag-voorskrifte
plaasgevind .
Die “amptelike” drag van niggies en neefs word in die Volkspele-Beweging se klerehandleiding beskryf en daar word
gehoop dat by die neergelegde standaarde gehou sal word. Dit is belangrik, want die korrekte drag wordin Suid-Afrika,
sowel as in die buiteland, met groot bewondering aanskou en mag nie afgewater word nie.
Volgende uitgawe: Die ontwikkeling van volkspele sedert 1914.
Volkspelers met hul nuwe formele uitrustings:
Van links, agter is Maxie Lombard (vdWalt), Doreen Serfontein, Eljomarius Streicher en Pieter du Plessis en voor is Oom Bossie en sy vrou, Susan Jacobs (van Wyk) en Marie Wiese
Die Boshof Volkspele-Laer wat aan die Eeufeesvieringe van 1956 deelgeneem het
Van links, agter: Iemand, Eljomarius Streicher, Liam Immelman, Tok Erasmus, Witkop du Plessis, Christo Nel en Pieter du Plessis;
Tweede ry: Felie Jacobs, P Jacobs, Elize de Wet, nog een, Drina Swart (vd Berg), Dup du Plessis (leier), Sara le Roux, Tannie Johanna Immelman, Rita en Nico du Plessis en nog een;
Derde ry: Marie Wiese, Stienie Britz, Susan Jacobs, Oom Bossie (beskerm-heer), Anna du Plessis (leidster), Jan du Plessis (Pretorius) en Maxie Lombard (vdWalt);
Voor: Freda van den Berg, Jannie Jacobs, Martie van Dyk, Pieter du Plessis en Johanna van Wyk (Roberts)
Ontwikkeling en mylpale
Hierdie is die derde en laaste artkel deur Wynand Theron van Durbanville oor die ontstaan van die Volkspele Beweging in
Suid-Afrika en handel oor die ontwikkeling van die beweging en die mylpale wat deur die jare bereik is. Die artikels is geskryf
in aanloop tot die herdenking van die ontstaan van volkspele op Boshof in1914. 'n Eeufees word vir 2014 op Boshof beplan
asook 'n "mini-fees" gedurende 2013 - nadere besonderhede volg later.
Die verdere ontwikkeling van volkspele sedert die stigting daarvan en mylpale wat deur die jare bereik is
Sedert daardie Saterdag, 28 Februarie 1914, toe die Volkspele Beweging tydens 'n piekniek buite Boshof sy nederige
ontstaan gehad het, het dit 'n pad deur ons land segeskiedenis geloop.
Aanvanklik was volkspele slegs op Boshof en omstreke beoefen, maar toe dr. S.H. Pellissier op 1 Desember 1926 aangestel is as Direkteur van Onderwys in die Vrystaat, het volkspele die nodige hupstoot gekry wat dit geleidelik onder die aandag van die breër onderwyskorps gebring het. So het me. A.M. Köhler, verbonde aan die Normaalopleidingskollege in Bloemfontein, in die jare 1936/37 'n beperkte aantal volkspele-sessies as deel van die liggaamsoefeningkursus aangebied. Hierdiedanse is dan ook daardie tyd vir die eerste keer in die program van Lenteskole van Smithfield, Dewetsdorp en Harrismith ingesluit.
Die simboliese ossewatrek van 1938 het 'n nasionale belangstelling in die nasionale volksdrag, volksange en volkspele aangewakker.
Me. Köhler het 'n verdere drie Sweedse liedjies vertaal en die uitgebreide belangstelling in volkspelehet daartoe gelei dat die eerste groot volkspelekursus in 1940 in Bloemfontein aangebied is. Kort daarna het die eerste volkspele handleiding in 1940 verskyn wat die belangstelling oor die hele land uitgebrei het. Laers (groepe volkspelers) is regdeur Suid-Afrika gestig, demonstrasies is gegee en talle kursusse van volkspele en volksang is dwarsdeur dieland gehou. Sodoende het volkspele al meer bekend en gewild geraak.
Die gewildheid van volkspele het sodanig gegroei dat 2000 volkspelers in 1949 tydens die inwyding van die Voortrekker-monument 'n massavertoning gelewer het. Daar was 'n tablo van 'n voortrekkerwa waarvan die
wiele gedraai het.
Tablo van die kakebeenwa gevorm deur 2000 volkspelers by die Inwydingsfees van Die Voortrekkermonument, Desember 1949
Die volgende massavertoning was op 3 April 1952 toe meer as 3000 volkspelers tydens die Van Riebeeckfees in Kaapstad opgetree het. Nog 'n massa-optrede het in Pretoria gevolg en ook tydens die Uniefees in 1960. By al die republiekfeeste daarna was volkspele altyd deel van die fees.
Hierdie optredes het bygedra tot 'n entoesiastiese en lewendige belangstelling in volkspele en die uitbreiding daarvan.
Massavertoning deur 3000 volkspelers tydens die Van Riebeeckfees in Kaapstad, April 1952
Op 17 April 1953 het 'n hondertal volkspelers met die skip, Carnarvon Castle na Europa vertrek. Die reis het twaalf dae geduur en elke oggend om 06:30 is daar gerepeteer – sonder musiek sodat die ander passassiers nie gepla sou word nie! Ses Europese lande is besoek en volkspele is as 'n kwaliteit-uitvoerproduk van Suid-Afrika bekend gestel. Sedertdien was daar nog ses oorsese toere tot in 1987 .
Gedurende Junie 2012 het 24 hoërskoolleerders ook 'n Afrikaanse volksang- en volkspele-toer na Nederland, Duitsland en België onderneem. Deur die jare is daar ook verskeie binnelandse toere gereël om volkspele aan die mense bekend te stel.
Verskeie boeke oor volkspele het ook die lig gesien. “Vir ons volkspelers” is 'n volkspele-handleiding; “Ons eie volkspele” is 'n
bundel van die gewildste en mees tipiese Afrikaansevolkspele en “Volkspele uit sonnige Suid-Afrika” is in 1953 spesiaal uitgegee vir die 1953 toer.
'n Hoogtepunt in Suid-Afrika is die Nasionale Pellissierweek, een van die Afrikaanse Volksang en Volkspelebeweging se nasionale weke – die 27ste byeenkoms is in 2011 gehou. Dit word bygewoon deur volkspelejeug wat vooraf in hul streke en provinsies gekwalifiseer het en gekeur is. Op hierdie manier word die Afrikanerjeug aangemoedig om hul kultuur so lank as moontlik deur middel van volksang en volkspele te bevorder. Hulleis die volwasse volkspelers van môre.
Die vraag “Waar staan volkspele vandag en is daar 'ntoekoms?” kan met reg gevra word. Dit is baie moeilik om te sê hoeveel laers landwyd nog bestaan, maar veel meer as 50 kan dit seker nie wees nie. Dit is hartseer dat al hoe minder mense volkspele doen terwyl ander tipe danse en ander kulture se danse baie erkenning geniet. Ons moet egter bly glo dat die volkspele-beweging sal bly voortbestaan en 'n aktiewe rol in die Afrikaner-kultuur sal speel. Ons is dit verskuldig aan hulle watsedert 1914 die volkspele-fakkel brandend gehou het, en ook aan ons kinders en hulle nageslag.